Thursday, February 19, 2009

Die moordwapen is dus: REPUTASIE

‘n Ikoon: Dit was in Brakpan se stadsaal waar ek my eerste groot show gaan kyk het. Die stadsvaders het met moeite ingestem om die jong opkomende ster met die geskeurde jeans en rockster-neigings op die toekoms van ons land los te laat. Ek (16) was minder gepla met die show as die geleentheid om vir Marelise (15) uit te vat. Sedert daardie eerste paar broekskeur vertonings is Steve Hofmeyer vandag ‘n ikoon, of jy nou daarvan hou of nie, en dit ten spyte van sy voorbladkapperjolle. Hy is een van die min Afrikaanse sterre wat iets van showbiz verstaan en dit regkry om homself, soos die mark skuif, in ‘n nuwe gedaante bekend te stel. Ek was vies vir Steve! Lank voor ek die moed kon bymekaar maak om Marelise se hand te vat, gooi daar toe ‘n gillende poppie ‘n stuk onderklere op die verhoog en daar val al my moed in my skoene...fisieke aanraking sou net nie in hierdie ontbloting gepas wees nie, of hoe.

Ek is nie ‘n groot aanhanger van Steve nie, al is ek ‘n Blou-bul. Hy’t ‘n lied of twee geskryf wat selfs vir my aansteeklik is, maar hy het die vermoë om die publiek te lees en homself en sy produkte aan hulle te verkoop. Ek weet nie wat dit aan ‘n mens doen om ikoon-status te bereik nie, wat dit aan jou doen om met fyn Franse onderklere gekonfettie te word nie. Ek weet wat hierdie status aan die Griekse en Romeinse leiers gedoen het...hulle het aan hulself as gode-seuns begin dink...Ek dink dit sal dieselfde met my doen...Wat doen dit aan jou om uit ‘n tas te leef en nie saam met jou mense te leef nie – t.w.v. die huis wat afbetaal moet word? Roem ruk reëlmatighede uit jou leefwêreld uit, veral as jy ‘n aap aan ‘n tou is.

‘n Held: Ek was ‘n eerste-jaarstudent op Tukkies wat sy meisie se telefoondiens probeer korter maak het deur so af en toe in te loer. Almal het van die nuwe rugby-sensasie in die ligblou trui geweet en daar stap hy die koshuis-voorportaal binne – asof daar niemand anders in die vertrek is nie. Voor by die toonbank vra hy kort-af, nog onbeholpe met sy vars roem: ‘Kan jy vir Marlene roep?’ En daar aanskou ek die krag van ‘n vrou, al klop haar telefoondiens-hart hoorbaar. ‘En wie is jy?’ vra sy so ewe en ek val amper van my stoel af oor haar in-beheer-wees. Sy verbaasde kort-af reaksie ‘Joost’. Ek het ‘n jaar of wat later geld geleen om toetskaartjies vir Loftus te koop en een van die groot sensasies was Joost – wat tot vandag toe nog die meeste toetsdrieë gedruk het en die tweede meeste toetse in groen en goud gespeel het. Ek is vies vir Joost! Ons het die toets teen Engeland verloor, goed verloor!

Nou is daar ander toetse wat die ou moet slaag en die horlosie tik af en dit lyk nie asof hy gaan score nie en die skare gooi al klaar naartjies en jou hom uit, oor hy ons nie meer – soos vroeër – beter oor onsself laat voel nie; of doen hy dalk weer...? Dit is darem so lekker as helde val want dan kan ons, die ou doodgewone outjies (wat die 9-5 ding doen), soveel beter oor onsself voel. So, dankie Joost, jy dien jou landsmense baie goed: Eers het ons soos ‘n magtige nasie gevoel deurdat jy die reuse soos Lomu laat val het en vir Stransky deur die gaping laat sny het; en nou voel ons darem beter oor ons eie mistastings as ons op ‘n gevalle held soos jy kan neer kyk. Jy word die sondebok wat van ouds af die woestyn ingejaag word en ons almal se patetiese toeskouerlewens op jou skouers moet dra. Dankie dat jy dit dra...jammer dat jy dit dra...iemand sal eendag by jou oorneem...want ons, die verveeldes, sal aanhou om dit te doen... [Joost ek onthou hierdie aanhaling, weet nie wie dit geskryf het nie “A man's reputation is what other people think of him; his character is what he really is.” Mag jou karakter ook vir jou belangriker wees as jou reputasie...en karakter is nie helde dinge nie...] Jou staan en val, held, bestaan bloot om ons self-persepsie [wat grynslag in die spieël] op te tel.

‘n Kind: My eerste blootstelling aan die Affie-kultuur was tydens ‘n Grey (Bloem) derby in Pretoria waar my stiefbroer vir Affies se eerstespan uitgedraf het. Dit was ‘n wonderlike ervaring vol energie en ek het gewonder of almal regtig so opgewonde is oor die gekloonde identiteit wat soos pap vir suigelinge gevoer word. Verstik jy van nature aan die identiteit wat op jou afgedwing word en jy kry ‘n reputasie wat eintlik gebore is uit die ander se omvorming van jou want hulle wil jou soos hulle hê – in taal, kultuur en gewoontes. Ek het nie Rick Horn se debakel op skool gevolg nie – maar ‘n vaal ou mossie wat vry vlieg was nog altyd vir my meer van ‘n voël as ‘n blinkstert pou in ‘n hok. Waarom wil ons so in beheer wees van ander se lewens? Vrees? Rick, ek is jammer vir al die kloonstasies waarvan ek al deel was. Jammer dat jou storie, die storie van ons vrees is – dat ons om een of ander rede meer in beheer en seker van onsself voel as ons vlerke knip en almal soos ons laat lyk. Reputasie (veral ‘n swak reputasie) is die simptome van ons onvermoë om met hulle wat anders is as die grys gemiddeld saam te leef.

‘n Koning: ‘n Digter met ‘n opmerklike aantreklikheid; ‘n onoorwonne generaal met ‘n liefde vir harp speel. ‘n Kombinasie van al hierdie gawes in een kry mens nie sommer nie en dan is die man nog boonop ‘n Godsman. “’n Man na God se hart,” is sy reputasie. Een warm somersdag, sonder ‘n liedjie om te skryf, ‘n gebed om te bid of ‘n oorlog om te veg en Dawid struikel oor die skoonheid wat nog altyd sekere chemiese prosesse in meeste mans losgemaak het. Wat daarop volg, is ‘n selfvernietigende pad wat soos ’n hyg-roman klink...en dan vloei daar ‘n lied van eerlik wees oor sy gebrokenheid...oor die gevolge dra...oor God wat nie net teleurgestelde toeskouer is nie – maar die een wat herstel...ongeag die hoogte van reputasie se val.

‘n Wonderwerker: Die stories het die hele land vol versprei van die man wat homself die Messias noem en wat wondertekens doen...maar daar is iets wat meeste mense op ‘n afstand hou...Sy reputasie...Hy is ‘n vraat en ‘n wynsuiper...


No comments: